Henties , Sossusvlei en Gemsbok fillet...
Twee goed blyk my hier van kardinale belang te wees. Om ‘n produktiewe gat te vind, en as jy dan iets vang, om die vis so laag as moontlik bakkie toe te sleep met n stadige, amperse “Arsene Lupin” stappie om nie slapende honde wakker te maak nie, skryf
JOE LATEGAN
Om teen donker op te staan en te begin ry het ons net mooi niks gehelp nie. Sowat 5 kilometer buite Henties het die “bakkies” roekeloosby by ons begin verby gons. Ek sou graag nog Sossusvlei vir my vrou wys op pad terug na Suid Afrika, maar het wyslik besluit om spoed te verminder en diegene wat na ons opgestaan het te laat verbyjaag. Die rustige rit verder het ons immers in staat gestel om jakkalsies wat orals langs die kus te sien is dop te hou, die landskappe te bewonder en dit te fotograveer.
By myl 108 aangekom merk ons dat die manne wat vroeër die oggend by ons verby gevlieg het, een na die ander bakkie toe hardloop met n kabeljou wat so laag as moontlik agterna sleep. Ek sou later uitvind dat vêrkykers hier rond gebruik word om van ver af te sien wie ’n goeie gat raakgeloop het. Dit was duidelik dat sou ‘n man hier sy gat ondek, hy hom moet beskerm!
Ook van kardinale belang is dat jy jou aas binne in die “gat” gooi, en nie langs die gat waar slegs ’n verdwaalde vis wat aan die rante van die skool beweeg jou aas gaan aanvat nie.
Ek het begin beswaard raak oor al die kabeljoue wat soos sardientjies op die bakkie gestop word, en besluit om te gaan soek vir my eie gat! Na die derde probeerslag kry ons toe ’n “gewillige gat”, en na 5 vinnige kabeljoue tussen ons almal het ons opgepak en stadig langs die strand opbeweeg, net omdat ons kon. My vrou het onder andere haar eerste kabeljou gevang en sy is geensins ‘n hengelaar nie. Inteendeel, behalwe vir n reuse baber was dit sleg haar tweede vis ooit. Almal het sardyne as aas gebruik en geen spesiale “megefters” soos oom Pieter sou gese het nie.
Die volgende oggend is ons met die C14 deur die “Namib Naukluft” Park en Kuiseb Pas na Sossusvlei om my vrou te gaan wys hoe lyk die mooiste duine in die wereld, en natuurlik om dit te fotografeer. Dit was ook spesiaal om my seun se verjaardag met smaaklike Gemsbok "fillet steaks" gevul met dadels, feta kaas, sampioene, room, kersies en goeie rooi wyn te kan vier....Tone in die rooi sand onder die Kameeldoring by Sesriem!
Nou ja, sonder een stukkie Kabeljou moes ons die volgende oggend terug na Suid Afrika, sonder stop, ’n dag en ’n nag verder.
Gedagtes aan dié besonderse plek steek in jou binneste vas, selfs maande nadat jy terug is in die draaikolk van jou “geld maak petalje”.